DANA SNYMAN EN KLOPJAG"Baby as ek Verby Ry" 10 + 11 Maart
Dana Snyman en Klopjag span saam in Baby as ek verby ry… om die gehoor op reis te neem na ‘n wêreld van agterpaaie, gastehuise, klein kroegies en vreemde dorpies met sy unieke karakters en stories. Dis ‘n onvoorspelbare reis wat ‘n venster oopmaak na ‘n wêreld wat dikwels op die oog af net beskore is vir reisjoernaliste en musikante op toer, maar ons as jy mooi luister kom jy agter jy ken elke karakter, miskien onder ander naam met ander gesig in ‘n ander dorp.
Die kombinasie van Dana se stories verstrengel met Klopjag se musiek pas soos ‘n handskoen. Die produksie gebruik nostalgie, humor en musiek met groot sukses om die prentjies vir die gehoor te skets. Dana se vertelstyl is selfs beter in lewende lywe as in sy boeke en dis werklik ‘n belewenis om die eerlike en opregte wyse waarop hy stories vertel, gekombineer met Klopjag wat op hul instrumente die onderliggende emosies en tema van elke storie met gemak uitbring, te ervaar.
Die produksie bring twee grotes in hul onderskeie genres byeen en bied aan die teaterganger ‘n emosionele reis wat jou oplaai in die Danielskuil van Dana se jeug en jou op al die agterpaaie saamvat en aflaai in die realiteit van die 21ste eeu. Al bagasie wat jy nodig het is lag, verbeelding en jou ore, die res sal jy langs die pad optel.
POPROCK KLASSIQ 16 Maart
‘n Asembenewende MULTIMEDIA Rock, Pop en Klassieke show. Kolloratuur pop opera sangeres, Nedine Blom span kragte saam met die wilde Rocker met die rasperstem, AndriesBotha en sorg vir ‘n besondere sinergie afgerond deur Suid-Afrika se eie“Vanessa Mae”, Adri Naude – Scholtz. Andries Botha se rasperstem herinner aan Brian Adams en Freddy Mercury terwyl Nedine Blom (Suid – Afrika se eie Sarah Brightman) haar koloratuur kwaliteite afshow in gunstelinge soos Mozart se “Koning van die Nag” die euro Popera treffer “La Voix” en ander treffers soos “Barcelona”. Die driemanskap vlieg deur treffers soos “Explosive”, ‘n Abba pop medley, “Rock daai lyfie”, Bryan Adams se “All for one” , “Wat is die wereld sonder jou”, “Bohemian Rhapsody”, ‘n kwaito pop weergawe van “Time to say Goodbye” asook “Shosoloza”
MAANMOND - BREYTEN BREYTENBACH 17 Maart
Maanmond, ‘n produksie geskep deur Franco Prinsloo skop eersdaags sy nasionale toer af in die Cachet Kleinteater in Potchefstroom. “Met dié produksie het Prinsloo dit reggekry om poësie lewe te gee sodat die ganse gehoor dit verstaan. Maanmond is ’n unieke vermenging van poësie (veral dié van Breyten Breytenbach), musiek en toneelspel wat elke lid van die gehoor met ʼn unieke ervaring laat. Netanja Brink se sopraanstem, met Prinsloo se klavierbegeleiding, trek jou in ’n wêreld in waar die Afrikaanse poësie ʼn nuwe baadjie kry” (Beeld, 7 September 2009)
Die geselskap bestaan uit Franco Prinsloo en Netanja Brink wat as musikante optree, en Natie Klopper en Su-an Müller wat as die akteurspaar die verhoog betree. Dit is ʼn produksie met die verganklikheid van die lewe en die strewe na liefde as 'n tema. Hierdie word alles saamgevat in ʼn nuwe en vars benadering tot die Afrikaanse teater.
“In die derde, dalk mees intense produksie van Maanmond, bestaan Prinsloo se teks uit ’n kombinasie van musiek van The Black Light Theatre Project (waarvan hy een van die stigterslede is), ’n vertolking van Breytenbach se werk, en sy interpretasie van dié magtige woorde.” (De Kat, November-uitgawe)
Volgens Prinsloo, is Maanmond ’n metaforiese voorstelling van liefde wat in alleenheid geskep word. Die poësie word ware, geloofwaardige karakters in die produksie. Op 16 September 2009 het die geselskap van Maanmond in die ateljee op SABC 3 se Afrikaanse uitsending van World Today verskyn.
GERRIE PRETORIUS 25 Maart
Gerrie Pretorius is nie net een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars nie maar ook een van die jongste kunstenaars nog wat kan spog met 7 platinum toekennings en ‘n SAMA nominasie! Gerrie spog ook op hierdie album met ‘n duet met een van Belgie se grootste sterre, Christoff. Gerrie het ook onlangs ‘n toer na Belgie onderneem en die verhoog met Christoff gedeel. Met Alles Pas probeer Gerrie beslis vir die publiek sê… Alles op die album pas perfek by ‘n lekker kuier! Gerrie gee ook terug aan al sy aanhangers op Alles Pas, deur ‘n kompetisie te loods waar een gelukkige Gerrie aanhanger ‘n droom vakansie vir 2 na Phuket kan wen. Die vakansie sluit in retoer vlugte tussen Johannesburg en Phuket, retoer vervoer tussen die hotel en lughawe, 5 nagte by die 4 ster Andaman Cannacia Oord en Spa met bed en ontbyt ingesluit asook lughawe belasting. Al die inligting
rondom die vakansie is beskikbaar op www.gerriepretorius.co.za
LA DIVA "Cocktails, Convertibles en al daai Jazz" 26 Maart
Met die sukses van hulle debuutproduksie, Wonderbra's, Stiletto's en al daai Jazz het La Diva al bewys dat hulle die spreekwoordelike spyker sommer met 'n hoehakskoen op die kop slaan, maar met Cocktails, Convertibles en al daai Jazz, neem die vroulike trio dit 'n stappie verder. Waar wonderbra's en stiletto's deel is van 'n vrou se voorbereiding, hou skemerkelkies en sportmotors vele ander beloftes in...maanlig aande, flikkerende kamera's, rooi tapyte, yskoue daquiries en witwarm liefde. Moet egter nie dink die moderne vrou sit angstig en wag dat 'n ridder met 'n wit Porsche haar kom red nie; die kanse is baie goed dat sy self een ry, en selfs met die dak afgeslaan dit nog steeds regkry om lipstiffie in die truspieeltjie aan te sit! La Diva se gewilde klank is 'n vars en unieke mengsel van gedistilleerde kontemporere popmusiek met 'n stewige skeutjie jazz. Stirred, not shaken.
DRIE VAN DIE BESTES
NG KERK PIERRE VAN RYNEVELD 27 Maart
Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo het sowat tien jaar gelede die eerste keer as Drie van die Bestes opgetree, en steeds bly hulle gewild en stroom die navrae vir optredes in.
Mathys se motorfietsongeluk verlede jaar het Drie van die Bestes genoop om vir ‘n tyd lank hulle optredes af te skaal.Hulle het vroeër vanjaar besluit om weer volstoom aan die gang te kom, en sommer op die koop toe aan ‘n nuwe program begin repeteer en op 27 Maart hou hulle konsert by die NG Kerk Pierre van Ryneveld in Centurion. Onder die leiding van musiekregisseur Mathys Maree werk die manne hard aan ‘n nuwe repertorium wat gunstelinge insluit soos Halala Afrika, Victoriabaai, Madeleine, Jy is vrou, My way, Somewhere over the rainbow, Millenium Prayer, en ‘n medley met Dan Tucker, Charlie Brown, Country Boy, Jambalaya en On the road again. ‘n vierstuks orkes gaan Drie van die Bestes voortaan begelei en ‘n lewendige musiekervaring soos min wag op gehore. Danie en Kevin sal oudergewoonte hulle komiese talente ook uitstal en Mathys se droë humorsin laat gereeld die ander twee manne op hul neuse kyk.
Drie van die Bestes se konsert is op Saterdag 27 Maart om 20:00 by die NG Kerk Pierre van Ryneveld in Centurion. Daar is genoeg en veilige parkering binne die kerk se terrein beskikbaar. Bespreek by Computicket of skakel 012 – 664 7859 vir verdere inligting.
SES SNARE 13 Apr
Ses Snare skop ‘n bedrywige 2010 af met ‘n splinternuwe program wat op 9 en 10 Februarie vir die eerste keer by Centurion Teater aangebied word. Die groep het hul eerste optrede by die Centurion Teater in Julie 2008 gehad en sê op hierdie wyse dankie aan die teater waar alles vir hulle begin het.
Die groep het bekend geraak vir die wyse waarop hulle ou treffers afstof en met akoestiese kitaar en stem nuwe kleur aan bekende liedjies gee. Tussendeur is daar ook heelwat oorspronklike musiek wat deur die manne self geskryf is. ‘n CD en DVD is einde Oktober 2009 vrygestel en is landwyd by musiekwinkels beskikbaar.
Benewens die optredes by Centurion Teater en binnekort by die KKNK, gaan Ses Snare vanjaar landwyd meer optredes doen by Kunstefeeste en teaters.
Volgens Giep van Zyl, bestuurder van die groep, gaan Ses Snare nie afwyk van hulle suksesresep nie: “Ons gaan steeds bekende sowel as oospronklike musiek in die nuwe program insluit, maar ons wil graag die show na ‘n hoër vlak neem. Ons gaan ‘n paar musikaal uitdagende songs instudeer en nog meer gebruik maak van elke Snaar se besonderse talente, en op hierdie manier ons repertorium uitbrei. Ons gaan steeds ‘n paar van die vorige produksie se songs ook doen, maar daar wag ‘n paar lekker verassings op gehore wat Ses Snare vanjaar gaan sien.”
ABBA MAGIC 16 + 17 April
Aan die einde van die vertoning is die gehoor nie altyd seker of dit werklik die kunstenaars op die verhoog is wat gesing het nie….. So eg vertolk hierdie vier kunstenaars die Abba liedjies. Lee Scott, Renee van Reenen, Nadia Louw en Hugo Nieuwoudt ondergaan ‘n metomorfose en op die verhoog verskyn die vier Abba “ikone”. Die doel met hierdie produksie is nie om Abba na te maak nie maar eerder om die musiek van Abba te laat voortleef en aan die gehoor ‘n skouspel te bring van musiek wat in die meeste mense se harte leef. Die musiek van Abba het ook die jongmense in SA aangegryp danksy die film “Mamma Mia” wat verledejaar in SA uitgereik is. En skielik sing en dans almal saam op die musiek van Abba.